Wednesday, April 20, 2011

Tyd-treffer 1

As jy min tyd het en gesonde kos vinnig op die tafel wil kry, is hierdie een perfek vir jou. Natuurlik was dit weer ’n eksperiment, maar dit het goed gewerk! Hilda sal nogal trots wees op my met my soet-suur-sout-kombinasie by die vis!

Die geure werk goed saam en proe lekker vars. Al is dit redelik gesond, is dit steeds vullend. Ek het visfilette in ’n pan gerooster en daarby kersietamaties met balsamiese asyn en fetakaas bedien. En basilpestopasta as bykos.

Jy kan vars brood of rolletjies ook hierby bedien, maar die pasta was genoeg vir ons.



VISFILETTE MET KERSIETAMATIES EN BASILPESTOPASTA
(Genoeg vir 2)
Bestanddele
’n Groot hand kersietamaties (ek het baba- Italiaanse tamaties gebruik)
Olyfolie
2 teelepels bruinsuiker
2 eetlepels balsamiese asyn
1 koppie pasta, volgens instruksies op pak gekook en gedreineer
2 - 4 visfilette (ek het sommer gevriesde filette gebruik)
Sout
Peper
Visspesery (Ek love Ina Paarman s'n!)
2 eetlepels basilpesto
½ wiel fetakaas
Origanum

Metode
  1. Sit die oond op 220°C op rooster (grill). Was die tamaties af en sit dit in ’n gesmeerde oondvaste bakkie. Sprinkel ’n klein bietjie olyfolie oor en dan die bruinsuiker en balsamiese asyn. Sit dit net so onbedek in die oond. Rooster tot die velletjies lekker kreukel, dit begin oopbars en die suiker en asyn opgelos het.
  2. Sit die pasta aan die kook.
  3. Verhit die olyfolie in ’n pan (ek gebruik ’n riffelpan). Maak die visfilette daarin gaar en geur met sout, peper en visspesery.
  4. Meng die gaar pasta met die basilpesto.
  5. Haal die tamaties uit die oond en roer dit deur sodat die sousie lekker oor die tamaties is.
  6. Skep die vis en die pasta in. Sit die tamaties op die vis (maak seker jy gooi van die sousie ook oor) en krummel die fetakaas bo-oor. Sprinkel dan die origanum oor.

No comments:

Post a Comment