Thursday, June 23, 2011

Hoenderpastei

Hoenderpastei bly nou maar vir jou 'n wenner. Ek ken niemand wat dit nie eet nie. Ek is selfs bereid om te vergeet van die dieet en saam te eet!

Die hoenderpastei wat ek gewoonlik maak is baie moeite, maar ongelooflik lekker. Hierdie keer ek egter besluit om 'n bietjie minder moeite te doen en iets anders te probeer. En dit het gewerk!

Onthou, hierdie resep is vir minstens 4 tot 6 mense – dit was genoeg vir my hele gesin!

HOENDERPASTEI
BESTANDDELE
'n Lekker homp botter
2 groot uie, fyngekap
1 knoffelhuisie, fyngekap
1 houer sampioene, in skywe gesny
2 pakke hoenderborsfilette (m.a.w. 8 filette sonder vel en been), in repies of blokkies gesny
Sout en peper
1 teelepel hoenderspesery
½ teelepel tiemie
½ teelepel droë pietersielie
½ teelepel mosterdpoeier
200 g ham of bacon, in stukkies gesny
8 gekookte eiers, afgedop en in skywe gesny (opsioneel en baie ryk!)
1 pakkie Cream of Chicken-sop
½ pakkie Cream of Mushroom-sop
± 350 ml warm melk
1 rol klaargemaakte deeg
1 eier, geklits, om op die deeg te smeer

METODE
Smelt die homp botter in 'n kastrol. Gooi die ui, knoffel en sampioene in en braai tot gaar. Voeg die hoender by. Gooi al die speserye by en roer goed deur. Sit die kastrol se deksel op en kook tot die hoender gaar is. Voeg nou die ham of bacon by en roer lekker deur. Maak intussen die melk sommer in 'n maatbeker in die mikrogolf warm. Voeg die soppoeier by en roer tot opgelos. Voeg nou die mengsel bietjie vir bietjie by die hoender tot dit 'n lekker dik sous vorm. Dit moenie te loperig wees nie, so moenie alles op een slag ingooi nie. Laat daar liewer sous oorbly as dit lekker dik is. As die sous te dik is, kan jy net ekstra melk bygooi. Gooi die mengsel in 'n gesmeerde oondbak. Pak nou die eiers bo-op indien jy dit gebruik. Rol die deeg uit en sit dit bo-op die pastei. Sny dit netjies en maak sommer patroontjies op die pastei met die res. Steek gaatjies in die deeg met 'n skerp mes en smeer die geklitste eier bo-oor sodat die deeg lekker bruin kan bak. Bak so 30 minute tot die deeg mooi uitgepof en goud is.

Wenk: Laat daar 'n lekker stuk deeg oor die rand van die bak steek, dan rol jy dit terug op die pastei om 'n mooi randjie te vorm. As jy dit te naby aan die bak afsny, gaan die deeg terugtrek en gaan 'n stuk van jou pastei se vulsel uitsteek.

No comments:

Post a Comment