My ma was nog al die jare baie ernstig daaroor dat ons moet ontbyt eet. Iets wat ek op skool nooit kon verstaan nie. Vandag besef ek egter die waarde van 'n goeie ontbyt. Ek kan steeds nie eet wanneer ek pas opgestaan het nie (ek meen, wie kan nou halfses in die môre vaste kos inkry?), maar deesdae eet ek so nege-uur se kant by die werk ontbyt.
Terwyl ek nou so van my ma praat – sy het haar allerbes gedoen om oats in my lyf te kry. En ek het dit nog altyd gehaat. Die lymerigheid, die tekstuur en die smaak. Oor een ding was sy beslis reg, en dis dat oats baie gesond is. Dit is hoog in vesel en verlaag die cholesterol (iets waarvan my man baie het!).
So, ek het besluit ons gaan oats eet. Maar nie met melk en suiker nie, want ek gril my dood wanneer die melk die oats tref en dit maak sulke taai, koue klonte in die papbak. Ek het toe maar 'n ander plan gemaak.
Ek het 'n boks van die vinnigkook-soort gekoop en dit werk soos 'n droom. Ek bedien dit met heuning, jogurt en kaneel. Heerlik!
LEKKER OATS
(Vir 2 mense)
Bestanddele
1 koppie vinnigkook-oats
'n Knippie sout
½ koppie kookwater
1 klein houertjie (125 ml) gewone/vanilla vetvry-jogurt
Fyn kaneel
4 eetlepels heuning
Metode
Gooi die koppie oats in 'n mikrogolfbak. Gooi nou die knippie sout oor en dan die kookwater. Roer die spulletjie met 'n lepel en mikrogolf dit vir 2 minute op hoog. Bly staan maar by die mikrogolf, want sodra die oats lyk of dit begin opstyg, moet jy dit roer en dan verder kook. Wanneer die oats gaar is, kan jy dit uithaal en in twee bakkies skep. Skep dan die jogurt oor en sprinkel kaneel oor die jogurt. Gooi dan die heuning oor. Roer die spul deurmekaar en eet. As jy dit soeter wil hê kan jy meer heuning oorgooi. Jy kan selfs blueberries, aarbei of piesang daarby insy. Hoe gesonder, hoe beter!
Jy moet net sê, as jy hulp nodig het om die
ReplyDeletequiche op te kry, ek is heeltemal gewillig om
te kom help!
wyse moeder
Ek sal maar weer die oats een opsit, omdat dit so lekker klink en lyk.
ReplyDeleteOm te dink ek het al die jare so gewroeg oor ek jul gedwing het om oats te eet met hope kaneelsuiker en ekstra suiker en hier kom sit
jy die njammie resep op.
Oulike kinnerkie!
Ek is nie juis een vir allerhande geurmiddels saam met oats nie! Maak net gewone jungle oats op die "ou" manier, as gaar gooi in 'n bakkie, strooi bruinsuiker(die klam soort as jy het!) oor en sprinkel met kaneel en geniet jou bakkie oats!
ReplyDelete