Ek vrek oor nachos en het uiteindelik die moed bymekaargeskraap om dit self te probeer. En dit was heel maklik!
Ek glo 'n mens kan seker enige mieliechips-goed gebruik vir die nachos, maar ek het sommer van daai pakke "Nachos Grande" by die supermark gekoop. Die meeste supermarkte hou dit aan, ek het gaan kyk :-)
Soos met die meeste van my kos, glo ek dat jy maar enigiets kan byvoeg waarvoor jy lus is, byvoorbeeld maalvleis, hoender, fetakaas, bone of heelpitmielies.
NACHOS
(Vir 2 mense)
BESTANDDELE
1 teelepel olyfolie
2 medium uie, fyngekap
4 groot, ryp tamaties, fyngekap
Sout en peper
½ teelepel suiker
1 pak (250 g) Nachos Grande
Paprika
1 koppie geraspersde cheddarkaas
1 houer (250 g) chunky maaskaas (ek gebruik vetvry)
1 avokadopeer, fyngemaak en met sout en peper gegeur
METODE
Verhit die olyfolie in 'n pan. Voeg die ui, tamatie, sout, peper en suiker by en soteer tot gaar, maar nie pap nie. Pak intussen die nachos op twee borde uit. Ek het dit so twee lae diep gepak. Sprinkel dan 'n bietjie paprika oor en dan die tamatiemengsel. Verdeel dan die kaas tussen die twee borde. Probeer om al die nachos te bedek. Bak dan teen 180°C vir so 15 minute, tot die kaas gesmelt is. (Ek sit die borde in my oondpan, dan is dit makliker om dit in en uit die oond te haal.). Verdeel die maaskaas tussen die twee borde en sit dan die avokadomengsel op. Sit die warm borde binne 'n ander bord en geniet!
No comments:
Post a Comment