Tuesday, May 10, 2011

Pampoenkoekies

Baie mense dink pampoenkoekies is vreeslik baie moeite. Maar dit is regtig nie. Dit gaan sommer lekker gou en wanneer jy eers jou vierde een eet, besef jy dat dit meer as die moeite werd is om dit te bak.

Soos ek al genoem het, gebruik ek nie juis resepte nie. So hierdie is maar 'n moerby-besigheid. Maar hier is min of meer hoe ek dit doen.



BESTANDDELE
± 1 kg pampoen, in blokkies gesny (ek is lui en koop sommer die pakke)
1 koppie bruismeel
¾ koppie suiker
3 eiers
1 eetlepel olyfolie
'n Bietjie sout
Kaneelsuiker

METODE
Kook die pampoen tot sag, gooi die water af en laat dit afkoel. Maak dit fyn met die masher of sommer met 'n vurk. Gooi die meel, suiker, eiers, sout en olyfolie by en roer goed. As die beslag te slap is, kan jy nog meel bygooi. Dit moenie so slap soos pannekoekdeeg wees nie. Verhit 'n kleefwerende pan oor redelike hoë hitte en spuit dit goed met Spray n Cook. Skep dan hopies die deeg met 'n groterige lepel in die pan. Ek gebruik sommer 'n opskeplepel. Ek gooi net drie koekies se deeg op 'n slag in die pan, anders is daar nie genoeg plek om dit om te draai nie. Wag tot die koekie se onderkant lekker gestol het en dit borreltjies begin maak op die bokant. Draai dit dan om en wag tot die koekie deurgaar is voor jy dit uit die pan haal. Sit dit in 'n bak en gooi kaneelsuiker oor. Spuit tussen elke baksel die pan Spray n Cook. Bak tot al die deeg op is en geniet!

1 comment: