Tuesday, May 3, 2011

Romerige macaroni-en-kaas

Macaroni-en-kaas was nog nooit een van my gunstelinge nie. Dit proe net vir my heeltemal te vaal. Ek maak dit egter gereeld, want dit is een van my man se gunstelinge. Gisteraand het ek besluit om die resep 'n bietjie aan te pas en iets heel anders, maar darem nie te volksvreemd nie, te probeer.

Ek het geroomde maaskaas, bacon en songedroogde tamatie bygevoeg. Ek glo darem dit was 'n sukses, want my man het selfs 'n derde keer gaan skep en selfs die laaste stukkie kaas uit die bak gelek!



BESTANDDELE
500 g macaroni, volgens aanwysings op pak gekook
200 - 250 g maer bacon, gesnipper
± 10 songedroogde tamatiestukke, in klein stukkies gesny
1 houer (250 g) geroomde maaskaas (creamed cottage cheese)
Knippie Paprika
Varsgemaalde swartpeper
1 koppie cheddarkaas, gerasper

METODE
Sit die macaroni aan die kook en begin dan met die bacon. Teen die tyd wat jy die bacon gesnipper het en liggies in 'n pan tot gaar gebraai het, die tamaties in stukkies gesny het en die kaas gerasper het, behoort die macaroni gaar te wees. Dreineer die pasta en meng dan die bacon, tamatiestukkies, maaskaas, paprika en swartpeper deur. Jy kan ekstra sout byvoeg as jy wil, maar dis nie regtig nodig nie. Sit die hele spul in 'n gesmeerde, oondvaste bak en strooi die kaas bo-oor. Bak dan vir 20 tot 30  minute in 'n voorverhitte oond van 180°C.

No comments:

Post a Comment