Wednesday, May 18, 2011

Super-vinnige skons

Dié wonderlike resep het ek by my vriendin van Namibië gekry. Sy is 'n uitstekende gasvrou en glo nie aan winkelgoed vir gaste voorsit nie. Die oggend wat ons gery het (en net 40 minute vir ontbyt gehad het), het sy blitsig hierdie skons gebak en voorgesit. Dit vat minder as 'n halfuur van niks tot skons.

Dit is nie die stewige skons wat ons gewoonlik by koffiewinkels kry nie, maar 'n lekker ligte skon. Geen uitrol of uitdruk nie, jy gooi die beslag sommer in 'n gesmeerde muffinpan.

BESTANDDELE
2 koppies meel
4 teelepels bakpoeier
½ teelepel sout
¼ koppie kookolie
1 eier, geklits
1½ koppie melk en water, gemeng (ek gebruik 1 koppie melk en ½ koppie water)

METODE
Sif die meel, bakpoeier en sout saam. Gooi die kookolie, eier en melk-en-watermengsel by. Roer tot daar geen klonte is nie en gooi in die gesmeerde muffinpan. Bak vir 15 tot 20  minute teen 180°C. Laat effens in pan afkoel voor jy dit uithaal en bedien.

Jammer, daar is geen foto's nie - ons het dit omtrent dadelik opgeëet!

No comments:

Post a Comment