Thursday, April 21, 2011

Pannekoek!

Dit het gister weer lekker gereën in die Kaap. En daar is darem net niks wat jou so troos oor jou nat voete soos pannekoek nie. Ek kon nie wag om my voete af te droog, my slippers aan te trek en die deeg aan te maak nie.

Ek weet die neiging is veerligte pannekoeke wat jy soos op daai advertensie sommer kan omblaas in die pan (sal jy regtig ’n pannekoek met iemand anders se asem op eet?), maar ek verkies behoorlike, stewige pannekoeke. Ek wil ná twee darem voel daar is ’n ou troosie in die maag!

My ma is nie eintlik een vir resepte nie. Sy het vir my geleer om pannekoekdeeg te maak, sommer so uit haar kop uit en vandag maak ek dit nog steeds so.

Trek aan jou slippers en begin sommer dadelik bak!



STEWIGE PANNEKOEKE
(2 mense)
Bestanddele
1 eier
1 koppie melk
1 koppie bruismeel (of 1 koppie koekmeel en 1 teelepel bakpoeier)
’n Knippie sout
1 teelepel olyfolie of kookolie
½ teelepel suurlemoensap
½ teelepel vanilla essence

Metode
Klits die eier en melk saam in ’n mengbak. Gooi die bruismeel en sout by en klits (ek gebruik sommer ’n whisk). Voeg die olie, suurlemoensap en vanilla by en klits weer. Klits deeglik tot daar geen klonte oor is nie. Probeer om die deeg minstens ’n uur te laat staan voor jy die pannekoek begin bak. Maak ’n kleefwerende pan warm en spuit Spray ’n Cook in. Gooi dan ’n lepel deeg (ek gebruik ’n soplepel) in en bak tot dit gaatjies maak en die rande gaar begin lyk. Draai om en bak ’n kort rukkie aan die ander kant. Bedien met kaneelsuiker.

Verdubbel net die resep as jy meer pannekoek wil bak. Ek skat gewoonlik op ’n koppie per twee mense.

1 comment: