Wednesday, May 4, 2011

Rooi Thai-hoenderkerrie

Al kerrie wat ek gewoonlik maak, is die effens soeter Kaaps-Maleise kerrie. Maar ek het nou besluit om 'n bietjie te eksperimenteer met ander soorte kerrie.

En ek moet nou sommer van die begin af bieg dat hierdie uit en uit 'n eksperiment was. Gelukkig het dit goed uitgekom!

Ek het so twee weke terug met een van ons sjefvriende gesels en hy het toe so oor 'n glas wyn beduie hoe ek dit moet maak. En ek het toe!



BESTANDDELE
1 eetlepel olyfolie
1 groot ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
2 teelepels rooi Thai-kerriepasta
2 teelepels sojasous
1 teelepel bruinsuiker
1 blik coconut milk (ek koop die lite, want coconut milk bevat baie vet)
1 rooi soetrissie, in dun repies gesny
± 5 murgpampoentjies, in dun wieletjies gesny
4 hoenderborsfilette, in blokkies gesny
Sout en peper
'n Knippie cayenne-peper
2 eetlepels Maizena (met 'n bietjie water gemeng tot 'n pasta)
'n Handvol koljanderblare (coriander), grofgekap

METODE
Verhit die olie oor medium hitte in 'n wok. Voeg dan die ui by en braai tot sag. Voeg dan die knoffel en die kerriepasta by en roer goed deur. Voeg dan die sojasous, bruinsuiker en coconut milk by en roer lekker. Bring tot kookpunt en voeg die soertissie en murgpampoentjie by. Draai die hitte effens af, sit 'n deksel op en laat kook vir so 10 minute. Voeg die hoender, sout, peper en caynenne-peper by en laat kook vir so 15 minute tot die hoender deurgaar is. Verdik met die Maizena en voeg koljanderblare by (jy kan dit uitlos as jy nie van die smaak hou nie). Bedien met jasmynrys.

WAARSKUWING: As jy allergies is vir shrimp, moet jy liefs nie die rooi Thai-kerriepasta gebruik nie, dit bevat "shrimp paste".

No comments:

Post a Comment