Tuesday, May 17, 2011

Ongelooflike kerriehoenderpot!

Byna almal wat my ken weet dat ek versot is op potjiekos. Ek het juis al baie gewonder wat ek sal antwoord as iemand my vra wat my gunsteling-kos is. Ek vermoed dit sal waarskynlik potjiekos wees.

Gewoonlik maak ons 'n lekker vleispot, maar Sondag het ek en my man besluit om 'n slag iets anders te probeer. Ons het toe 'n lekker geurige hoenderkerriepot gemaak. En ek moet sê, my man is 'n doring as dit by 'n pot kom!

Ek glo 'n mens kan byna enigiets in jou pot gooi, maar ek weet daar is mense vir wie 'n pot byna heilig is. Maar ek skryf maar neer wat in ons pot was, net sodat jy 'n idee kan kry wat min of meer daar moet wees. Dié pot is genoeg vir minstens vier mense en jy kan dit sommer op die stoof ook maak. Dit gaan net nie dan die lekker rooksmaak hê nie.



BESTANDDELE
2 eetlepels olyfolie
2 groot uie, fyngekap
3 knoffelhuisies, in dun skywe gesny
12 hoenderstukke (borsies, vlerkies, dytjies, boudjies), skoongemaak
3 teelepels hoenderspesery
Sout en peper
1 teelepel tiemie
1 teelepel koljander
500 ml (2 blokkies) hoenderaftreksel
8 medium aartappels, geskil en in blokke gesny
1 teelepel komyn
1 teelepel borrie
2 teelepels matige kerrie
1 teelepel warm kerrie
½ teelepel rooipeper
2 eetlepels bruinsuiker
¼ koppie asyn
1 blik gekapte tamatie
½ koppie appelkooskonfyt

METODE
Braai die ui en knoffel in die olyfolie tot sag, maar nie bruin nie. Gooi die hoenderstukke by. Meng die hoenderspesery, sout, peper, tiemie en koljander (verkieslik vooraf) en geur die hoender daarmee. Brown die hoender lekker en voeg dan die hoenderaftreksel en aartappels by. Laat lekker deurkook. Meng die komyn, borrie, kerrie, rooipeper en suiker met die asyn tot 'n pasta. Voeg dit by die pot en kook deur. Voeg dan die tamatie by. Wanneer die pot amper klaar is (ons kook hom tot die hoender lekker fyn van die bene afval), kan jy die appelkooskonfyt byvoeg. Kook dit weer lekker deur en bedien met rys.

No comments:

Post a Comment