Monday, May 2, 2011

Beste sjokoladekoek ooit!

Soos ek in my vorige post genoem het, het my man verlede naweek verjaar. En natuurlik het ek vir hom 'n behoorlike verjaardagkoek gebak.

Ek het hierdie koek verlede jaar probeer en dit was 'n volslae flop, grotendeels omdat ek te haastig was en room i.p.v. karringmelk in die beslag gegooi het! Maar ek het besluit ek gaan nie opgee nie en ek het dit weer probeer. Die keer was dit 'n groot sukses!

Die resep kom uit Plaaskos deur Arina du Plessis en Landbouweekblad. Ek dink jy gaan ver soek om 'n ryker, dekadenter en lekkerder koek te kry. Dis die ene klam sjokolade.



BESTANDDELE
Koek
100 g donker sjokolade, gebreek
375 ml sterk, warm koffie
750 ml ligbruinsuiker
625 ml koekmeel
375 ml kakao
10 ml bakpoeier
5 ml koeksoda
5 ml sout
3 ekstra-groot eiers
180 ml olie
375 ml karringmelk
10 vanieljegeursel

Versiersel
400 g donker sjokolade
250 ml dik room
60 ml sagte botter
30 ml gouestroop

METODE
Voorverhit die oond tot 150°C en smeer twee koekpanne van 20 cm. Voer elke pan met bakpapier uit en smeer weer. Meng die sjokolade en warm koffie in 'n bak en roer tot die sjokolade gesmelt en die mengsel glad is. Sit die suiker in 'n bak en sif die droë bestanddele bo-oor. Roer deur en hou eenkant. Klits die eiers in 'n ander mengbak tot goed gemeng en liggeel. Voeg die olie, karringmelk, vanielje en sjokolademengsel by die eiers en klits goed. Giet oor die droë bestanddele en meng goed. Verdeel tussen die twee panne en bak vir 1 tot 1¼ uur tot gaar. Laat in die panne afkoel. Keer uit wanneer heeltemal koud en trek die bakpapier af. Maak die versiersel terwyl die koeke afkoel. Smelt die sjokolade en room saam oor lae hitte tot glad. Roer die botter en stroop by en laat afkoel tot dik genoeg om te smeer. Sny elke koeklaag in twee dunner lae (indien verkies) en versier die koek tussen die lae met die versiersel. Stapel die lae opmekaar en versier bo-op met die orige versiersel. Hou in die yskas, maar sit voor teen kamertemperatuur.

Ek wou baie graag die koek met sjokoladekrulle en frambose versier, maar daar was nie tyd nie. Ek was skaars klaar met die versiersel, toe is die mense hier. Ek het toe maar vinnig 'n Flake oorgesprinkel. Een ding is seker – ek sal Arina altyd dankbaar bly vir hierdie heerlike koek!

1 comment:

  1. kan ek die koffie uithou vir kinder verjaardag koek en moet ek dit vervang met ander vloeistof?

    ReplyDelete