Ek kon nog nooit verstaan waarom mense so aangaan oor sushi nie. Ek meen, dis rou vis en seegras en goed! Ek het dit twee keer probeer en my elke keer doodgegril as die homp rou vis so in my keel gaan sit en ek nie die ryskorreltjies afgesluk kan kry nie.
Ek en manlief het Sondag by Ocean Basket in Blouberg 'n draai gemaak. Ocean Basket is en bly maar net een van my gunsteling-eetplekke. Ek vrek mos oor seekos.
Ou Skapie stel toe voor dat ons 'n bietjie sushi probeer as voorgereg. En ek besluit toe om dit nog een keer, een heel laaste aaklige keer, te probeer. Mense, ek is mal daaroor! Ek weet nie wat skielik verander het nie, maar ek hou nou daarvan. En ek lus nog!
Daarna het ek die wonderlikste seekos-platter gehad. Ek weet die meeste mense voel 'n groot stuk steak is 'n lekker bederf, maar gee maar enige dag vir my 'n bord seekos!
So wat ek eintlik probeer sê is ek hou nou van sushi en ek is mal oor Ocean Basket! (Ek dink eintlik Ocean Basket behoort my te betaal vir hierdie stukkie lofprysing ...)
No comments:
Post a Comment