Monday, June 27, 2011

Spyskaart (27 Junie tot 1 Julie 2011)

Maandag: Skaapkerriepot en rys

Dinsdag: Vis, gegeurde rys en geroosterde groente

Woensdag: Butternut-en-spinasie-canneloni

Donderdag: Wors, mash en tamatiesmoor

Vrydag: Hoenderlewertjies op vars rolletjies

Thursday, June 23, 2011

Hoenderpastei

Hoenderpastei bly nou maar vir jou 'n wenner. Ek ken niemand wat dit nie eet nie. Ek is selfs bereid om te vergeet van die dieet en saam te eet!

Die hoenderpastei wat ek gewoonlik maak is baie moeite, maar ongelooflik lekker. Hierdie keer ek egter besluit om 'n bietjie minder moeite te doen en iets anders te probeer. En dit het gewerk!

Onthou, hierdie resep is vir minstens 4 tot 6 mense – dit was genoeg vir my hele gesin!

HOENDERPASTEI
BESTANDDELE
'n Lekker homp botter
2 groot uie, fyngekap
1 knoffelhuisie, fyngekap
1 houer sampioene, in skywe gesny
2 pakke hoenderborsfilette (m.a.w. 8 filette sonder vel en been), in repies of blokkies gesny
Sout en peper
1 teelepel hoenderspesery
½ teelepel tiemie
½ teelepel droë pietersielie
½ teelepel mosterdpoeier
200 g ham of bacon, in stukkies gesny
8 gekookte eiers, afgedop en in skywe gesny (opsioneel en baie ryk!)
1 pakkie Cream of Chicken-sop
½ pakkie Cream of Mushroom-sop
± 350 ml warm melk
1 rol klaargemaakte deeg
1 eier, geklits, om op die deeg te smeer

METODE
Smelt die homp botter in 'n kastrol. Gooi die ui, knoffel en sampioene in en braai tot gaar. Voeg die hoender by. Gooi al die speserye by en roer goed deur. Sit die kastrol se deksel op en kook tot die hoender gaar is. Voeg nou die ham of bacon by en roer lekker deur. Maak intussen die melk sommer in 'n maatbeker in die mikrogolf warm. Voeg die soppoeier by en roer tot opgelos. Voeg nou die mengsel bietjie vir bietjie by die hoender tot dit 'n lekker dik sous vorm. Dit moenie te loperig wees nie, so moenie alles op een slag ingooi nie. Laat daar liewer sous oorbly as dit lekker dik is. As die sous te dik is, kan jy net ekstra melk bygooi. Gooi die mengsel in 'n gesmeerde oondbak. Pak nou die eiers bo-op indien jy dit gebruik. Rol die deeg uit en sit dit bo-op die pastei. Sny dit netjies en maak sommer patroontjies op die pastei met die res. Steek gaatjies in die deeg met 'n skerp mes en smeer die geklitste eier bo-oor sodat die deeg lekker bruin kan bak. Bak so 30 minute tot die deeg mooi uitgepof en goud is.

Wenk: Laat daar 'n lekker stuk deeg oor die rand van die bak steek, dan rol jy dit terug op die pastei om 'n mooi randjie te vorm. As jy dit te naby aan die bak afsny, gaan die deeg terugtrek en gaan 'n stuk van jou pastei se vulsel uitsteek.

Tuesday, June 21, 2011

Groentesop

Wanneer ek griep het, is hierdie sop 'n wenner. Dit is sag op die seer keel en propvol groente en vitamiene. Daarby is dit ook lekker vinnig om te maak. Die beste is natuurlik dat dit glad nie vet maak nie!

GROENTESOP
BESTANDDELE
2 groot uie, fyngekap
1 knoffelhuisie, fyngekap
2 blikke fyngekapte tamatie (chopped and peeled)
½ rooi soetrissie, fyngekap
5 murgpampoentjies, gerasper
4 groot wortels, gerasper
¼ kool, fyngekap
1 koppie gekerfde groenboontjies
2 blokkies biefaftreksel
500 ml kookwater
Sout
Swartpeper
Origanum
Tiemie

METODE
Gooi al die groente in die pot. Los die biefblokkies in die kookwater op en gooi by. Geur met sout, peper, origanum en tiemie. Ek kook dit dan vir so 1½ uur in my drukpot en maak dit dan fyn met die stick blender. As jy 'n gewone kastrol gebruik, kan jy dit effens langer laat kook.

Wenk: Ek skep die sop in porsiegrootte bakkies en vries dit. Dit ontvries goed en dat het jy sommer vinnig kos wanneer jy nie lekker voel nie.

Spyskaart (20 Junie tot 24 Junie)

Dis 'n dag laat, maar hopelik help dit nog steeds!

Maandag: Hoenderpastei en geroosterde groente

Dinsdag: Groentesop

Woensdag: Hoenderkerrie

Donderdag: Spaghetti bolognese

Vrydag: Tuisgemaakte pizza met bacon, feta en avokado

Sunday, June 12, 2011

Butternutsop

Butternutsop is seker my heel gunsteling-sop. Die lekkerste butternutsop vir my is wanneer die butternut in die oond gerooster is. En die beste van alles – dit is baie min moeite!



BESTANDDELE
1,5 kg butternut (ek koop sommer gewoonlik die sakkies met die blokkies)
2 groot uie, in dun skywe gesny
2 knoffelhuisies, in dun skywe gesny
Olyfolie
2 blokkies hoenderaftreksel
1 l water (voeg meer water by as jy van 'n dunner sop hou)
Sout en peper

METODE
Spuit 'n oondvaste bak met Spray n Cook. Gooi die butternut, ui en knoffel in die oondbak. Sprinkel olyfolie oor en rooster in die oond tot gaar. Ek rooster dit gewoonlik vir so 'n uur by 220°C. Gooi die gaar butternut in 'n lekker groot kastrol. Los die hoenderaftrekselblokkies in die water op en gooi dit by die sop. Geur met sout en peper en roer lekker deur. Laat vir so 15 minute deurkook. Maak dan die sop fyn met die stick blender.
Bedien dit met 'n titseltjie room (as jy wil) en brood.

Spyskaart (13 tot 17 Junie 2011)

Hier is die spyskaart vir hierdie week. Kom ons hoop dit reën nie Donderdag nie, want 'n mens met darem op 'n vakansiedag braai!

Maandag: Biefroerbraai met noedels

Dinsdag: Hoender á la King met rys

Woensdag: Pasta met butternut, spinasie en feta

Donderdag: Braaivleis! Steak met sampioensous, oondchippies en slaai

Vrydag: Kerriefrikkadelle, kapokaartappels en geroosterde groente

Monday, June 6, 2011

Spyskaart (6 Junie tot 10 Junie 2011)

Maandag: Pasta met 'n mince-sous

Dinsdag: Hoender-en-broccoli-roerbraai met bruinrys

Woensdag: Vis met gegeurde rys

Donderdag: Butternutsop en vars brood

Vrydag: Tuisgemaakte hoenderburgers

Wednesday, June 1, 2011

Baie vinnige lasagne

Die heel lekkerste lasagne is wanneer jy self jou tamatiesous maak en dit vir ure lekker stadig staan en prut. Of as jy klein tamaties in die oond rooster en dan die sous daarvan maak.

Maar soms as ek halfsewe eers by die huis kom, is ek beslis nie lus vir ure staan en sous maak nie. Maar ek is wel baie lus vir lasagne. Dan maak ek sommer hierdie vinnige kroek-weergawe!

BESTANDDELE
1 eetlepel olyfolie
1 groot ui, gekap
1 knoffelhuisie, gekap
1 groot pak mince (± 500 g)
Sout
Peper
Paprika
Koljander (coriander)
Worcestershire-sous
1 pakkie tamatiepasta
1 pakkie bolognaise-sous (Royco, die oranje een, wat jy met kookwater aanmaak)
’n Groot homp botter
½ koppie koekmeel
½ teelepel kerriepoeier
2 koppies melk (maak effens warm)
Lasagne-velle
Baie cheddarkaas

METODE
1.       Soteer ui en knoffel tot deurskynend, maar nie bruin nie.
2.       Sit mince by en brown. Geur met sout, peper, paprika, koljander en Worcestershire-sous.
3.       Meng die tamatiepasta deur en maak die bolognaise-sous met 1 koppie kookwater aan. Meng dit ook deur. Laat baie stadig prut sodat dit kan dik word.
4.       Maak intussen die witsous. Smelt die botter in ’n mikrogolfbak en meng die meel, sout, kerriepoeier en melk deur. (Ek klits die spul sommer met die whisk). Maak die melk eers effens warm, anders gaan dit klonte maak.
5.       Spuit ’n oondvaste bak met Spray ‘n Cook. Pak dan van die lasagnevelle onderin. Maak seker dit gaan nie oormekaar nie.
6.       Skep dan ’n laag mince (die helfte van die mince) in. Dan weer ’n laag lasagnevelle. Dan witsous en kaas. Weer lasagnevelle. Dan die res van die mince, weer lasagnevelle en dan die res van die witsous en die kaas.
7.       Bak tot dit die kaas behoorlik gesmelt is.